Geen staatsbegrafnis vir omstrede aartsbiskop

Die premier van Victoria in Australië, Daniel Andrews, het bevestig daar sal geen staatsbegrafnis wees vir  kardinaal George Pell wat in Rome dood is nie. Hy sê die besluit is geneem uit respek vir slagoffers van institusionele seksuele misbruik van kinders. Pell, ‘n voormalige aartsbiskop van Sydney en Melbourne, is in 2018 skuldig bevind aan die molestering van twee koorknape by die St. Patrick-katedraal, terwyl hy in 1996 aartsbiskop van Melbourne was. Pell het altyd volgehou hy is onskuldig en sy skuldigbevindings is in 2020 in ‘n eenparige besluit nietig verklaar.