Geen regshulp vir Dippenaar in sivielesaak nie

Die direktoraat vir regshulp in die ministerie van justisie het regshulp aan Jandre Dippenaar geweier. Dippenaar het volgens berigte die hulp nodig om regsverteenwoordiging te bekom in die siviele eis wat teen hom deur een van die oorlewendes van die 2014 motorongeluk Antonia Joschko gebring is. Regter Shafimana Ueitele het Dippenaar tot 2 November gegee om regshulp te bekom. Joschko dagvaar vir skadevergoeding van 500 000 Namibiese doller en net minder as 715 000 euro na die noodlottige ongeluk van 29 Desember 2014 waar sy haar suster en haar ouers verloor het. Dippenaar het ook ‘n strafregtelike saak waar hy verskeie klagte in die gesig staar. Hy het die voertuig bestuur en ses mense is in die ongeluk dood. Daar is onder andere, ses klagte van moord teen hom. Daardie saak hervat op 18 Oktober vanjaar in die Streekshof in Swakopmund. In daardie saak verdedig advokaat Louis Botes hom op instruksie van Petrie Theron.