FTX skuld US$3,1 miljard aan ‘n miljoen krediteure

Die bankrot kripto-beurs FTX skuld sy 50 grootste krediteure byna 3,1 miljard Amerikaanse dollar, volgens sy stukke wat hy by die hof ingedien het. Die beurs – wat vroeër vanjaar 32 miljard Amerikaanse dollar werd was – het op 11 November, na ‘n week van likiditeitskrisis, aansoek gedoen om Hoofstuk 11-bankrotskap. Sy 30-jarige stigter, Sam Bankman-Fried, het ook as uitvoerende hoof bedank. Die enkele grootste skuldeiser word meer as 226 miljoen geskuld. Die beurs het ook aangekondig dat hy meer as ‘n miljoen krediteure het, 10 keer meer as sy aanvanklike skatting van 100 000 krediteure. FTX se nuwe uitvoerende hoof, John J. Ray – wat toesig gehou het oor die bankrotskap van Enron in 2001 – sê hy het nog nooit so ‘n volledige mislukking van korporatiewe beheermaatreëls en so ‘n algehele afwesigheid van betroubare finansiële inligting gesien soos by FTX nie.