Europa gaan gebuk onder nuwe Covid-vlaag

Hospitale in die suidelike Nederlandse provinsie Limburg het gewaarsku die regering kan nie langer al die nuwe Covid-19-pasiënte hanteer nie. Die gemiddelde daaglikse aantal nuwe gevalle in Nederland het die afgelope twee weke byna verdubbel. Bulgarye het gister ‘n rekord 334 sterftes vir die vorige 24 uur aangemeld. Die Russiese koronavirustaakmag het Dinsdag meer as 1 200 sterftes geregistreer, die hoogste daaglikse dodetal in die land sedert die begin van die pandemie. In Frankryk word daar in die afgelope dae meer as 10 000 nuwe getalle bevestig en die land sê hy is in die vyfde vlaag. Duitsland gaan weer op sy beurt gebuk onder ‘n vierde vlaag met duisende nuwe infeksies daagliks.