DA vra ondersoek na korrupte tenders in kantoor van hoofregter

Die DA vra dat die beweerde korrupsie met die uitreiking van inligtingstegnologie-tenders deur amptenare in die kantoor van die hoofregter so gou as moontlik ondersoek moet word. Dit volg nadat mediaberigte aangedui het die kantoor stel ondersoek in na ‘n tegnologie-ooreenkoms van 225 miljoen Suid-Afrikaanse rand. Die DA-lid, Glynnis Breytenbach, sê die ooreenkoms is aangegaan tussen Thomson Reuters en ‘n subkontrakteur genaamd ZA Square, en is volgens die beskikbare inligting deurspek met onreëlmatighede.