SA egpaar verskyn in Grootfontein-hof ná hulle militêre toerusting fotografeer

Twee Suid-Afrikaanse burgers is in hegtenis geneem nadat hulle na bewering gevind is terwyl hulle foto’s van militêre toerusting in die Grootfontein-weermagbasis geneem het. NamPol se koördineerder vir misdaadondersoeke in die Otjozondjupa-streek, adjunk-kommissaris Naukalemo Andreas, het gesê die verdagtes is ‘n egpaar van Suid-Afrika wat beweer het dat hulle toeriste is. Die 60-jarige Walter John Dalton en sy vrou, die 58-jarige Cornelia Maria Dalton, het in die Grootfontein-landdroshof verskyn en is op borgtog van 5 000 Namibise dollar elk vrygelaat. Dit is nog onbekend hoe dié egpaar daarin geslaag het om die goed beskermde militêre basis met hul voertuig binne te gaan en ook wie hulle toestemming gegee het om foto’s binne die grootste militêre basis in die land te neem. Die egpaar sal na verwagting môre weer in die hof verskyn, moontlik vir verhoor en vonnisoplegging, het Andreas bygevoeg.