Conradie en Damases weer in die hof

Die korrupsieverhoor van Dirk Conradie, voormalige voorsitter van MTC en bekende Windhoekse prokureur, en sy medebeskuldigde, Sara Damases, duur vandag voort voor regter Thomas Masuku. Die saak is reeds in 2012 deur die Teenkorrupsie-kommissie aanhangig gemaak en hou verband met klagte van korrupsie, same­swering om korrupsie te pleeg en, in Conradie se geval, misbruik van sy magsposisie. Conradie en Damases het na bewering die eienaars van die advertensiemaatskappy DV8 Saachi & Saachi, probeer oortuig om Damases as swart bemagtigingsvennoot aan te stel. DV8 het vir die 60 miljoen dollar MTC-advertensierekening getender. Mark Bongers van DV8 het in sy getuienis op 22 Mei 2018 gesê Conradie het by ‘n vergadering in Junie 2012 verduidelik hoe hy as sleutelbesluitnemer die stemproses sou swaai sodat hulle die kontrak sou verkry. Bongers was na bewering nie hiervoor te vinde nie en het die verwikkelinge onder die aandag van die ACC gebring. Conradie en Damases het in Maart 2016 onskuldig gepleit en is vry op borgtog van 30 000 dollar elk.