CNN sê Rusland plunder Sudan se goud

CNN berig hy het bewyse dat Rusland goud uit Sudan smokkel om sy oorlog in die Oekraïne te befonds. Die Amerikaanse nuusagentskap sê sy verslaggewer kan bewys dat bokse koekies wat einde Februarie in ‘n Russiese vliegtuig in Khartoum uitgevoer is, eintlik goud was en daar was ‘n ton daarvan. Sudan is Afrika se derde grootste goudprodusent. CNN sê daar was 16 sulke vlugte wat hy kan bevestig. Sy ondersoek dui op ‘n uitgebreide Russiese skema om Sudan se rykdom te plunder in ‘n poging om Rusland te versterk teen toenemende Westerse sanksies en om Moskou se oorlogspoging in die Oekraïne te ondersteun. Die bewyse dui ook daarop dat Rusland saamgespan het met Sudan se beleërde militêre leierskap en politieke en militêre steun aan hom verleen.