Buitelanders sal kan grond huur in kommunale gebiede

Die Namibiese regering hou voet by stuk dat sy nuwe aanpassings aan die wetsontwerp in verband met grond en grondeienaarskap die korrekte aanslag is. Die nuwe wetsontwerp wat teen September vanjaar voltooi sal wees, laat buitelanders toe om langtermyn huurkontrakte vir grond in kommunale gebiede te sluit. Volgens die direkteur van grondhervorming in die landbouministerie Petrus Nangolo het inwoners van die gebiede nie die bronne of vermoë om kommunale grond te ontwikkel en ekonomiese voordele te ontgin nie. Die stap kom ten spyte van eise deur die Affirmative Repositioning-beweging dat geen buitelander toegelaat mag word om grond in Namibië te bekom nie, of dit ‘n pag is en of dit ‘n aankoop is.