Buffalo-skieter was laas jaar op polisie se radar

Payton Gendron, 18, wat van tien moorde in die New Yorkse stad Buffalo aangekla word, het verlede jaar Junie die aandag van plaaslike wetstoepassers getrek na ‘n dreigement wat hy by sy skool gemaak het. Hy is destyds ‘n geestesgesondheidsevaluering gegee, maar is ná ‘n dag en ‘n half vrygelaat. Kathy Hochul, goewerneur van New York, sê ‘n ondersoek sal fokus op wat gedoen kon word om die tiener, wat blykbaar ‘n rits gewelddadige, rassistiese sienings aanlyn publiseer het, te stop. ’n Manifes van 180 bladsye wat aanlyn gesirkuleer het, wat vermoedelik deur Gendron geskryf is, het “The Great Replacement Theory” uiteengesit – ’n rassistiese samesweringsteorie dat wit mense deur minderhede in die Verenigde State en ander lande vervang word.