Britte begin met ‘leef met Covid’

Die Britse premier Boris Johnson het alle oorblywende koronavirus-beperkings in Engeland opgehef. Dit tree Donderdag in werking. Dit vorm deel van sy regering se “leef met Covid”-plan. Die vereiste om te isoleer na ‘n positiewe toets val weg. Volwassenes en kinders wat positief toets, sal aangeraai word om by die huis te bly en kontak met ander mense vir ten minste vyf volle dae te vermy en dan voort te gaan om die leiding te volg totdat hulle twee negatiewe toetsuitslae op opeenvolgende dae ontvang het. Kontak-opsporing kom tot ‘n einde en ingeënte kontakte sal nie meer hoef te toets nie, en die wat nie gespuit is nie sal nie verplig word om te isoleer nie. Vanaf 1 April sal mense met simptome bloot aangemoedig word om persoonlike verantwoordelikheid uit te oefen.