Boom na Leo DiCaprio vernoem

‘n Nuwe boomspesie is vernoem na die akteur, Leonardo DiCaprio, in erkenning van die Hollywood-ster se veldtogte teen ontbossing. Nuusagentskappe berig die Londense Koninklike Botaniese Tuine het dié aankondiging gister gedoen. Die immergroen boom met groot, gelerige-groen blomme, wat in die Ebo-woud in Kameroen gevind is, is die eerste nuwe spesie waarvoor botanici van die bekende tuine in Londen in 2022 ‘n naam gegee het. Die boom se wetenskaplike naam, Uvariopsis dicaprio, erken die 47-jarige Amerikaanse akteur se werk om ontbossing te keer, van die bedreigde woud waar die enigste bekende voorbeeld van die boom gevind is.