Boere, kleinsake moet ook nou voldoen aan regstellende aksie-wetgewing

Die Namibiese Landbou-unie sê die eensydige besluit deur die arbeidsministerie om die regulasies oor regstellende aksie te wysig raak landbouers en talle ander kleinsake. Ingevolge kennisgewing 275 wat op 15 September in die Staatskoerant gepubliseer is, is die drumpel vir werkgewers wat nou aan die wet moet voldoen, verlaag vanaf besighede met 25 en meer werknemers na enige besigheid met tien of meer werknemers. Dus, kommersiële boere en houtskoolprodusente ressorteer nou ook as kwalifiserende werkgewers wat moet voldoen aan die voorskrifte van die 1998-wet. Die landbou-unie sê hy het Landbouwerkgewersvereniging beopdrag om dringend met die Namibië Werkgewersfederasie te skakel sodat die kwessie met die ministerie opgeneem kan word.