August 26 kry ou 2016-tender vir N$25m meer

Die omstrede en geheimsinnige kommersiële been van die Namibiese weermag, August 26, is weer in die nuus. Die August 26-konstruksiemaatskappy is ‘n tender ter waarde van net minder as 92,7 miljoen Namibiese dollar deur die onderwysministerie toegeken vir die konstruksie van ‘n koshuis in Zambezi. Die oorspronklike tender is reeds in Augustus 2016 toegeken aan ‘n onbekende maatskappy wat die perseel verlaat het na betaling van 13 miljoen Namibiese dollar ontvang is. Volgens die onderwysminister, Anna Nghipondoka, kos die huidige projek die ministerie 25 miljoen Namibiese dollar meer as wat oorspronklik begroot is. Die sogenaamde Schuckmannsburg-koshuis sal uit vier slaapsale, badkamers, kombuis, eetsaal, twee waskamers, ‘n veeldoenige saal en ‘n woning vir die opsigter bestaan. Dit behoort oor twee jaar voltooi te wees maar die maatskappy sê hy sal die projek in 12 maande voltooi.