All Blacks verloor, ja verloor, teen Frankryk

Frankryk het geskiedenis gemaak deur die All Blacks hulle heel eerste Wêreldbeker-groepsnederlaag toe te dien in die openingswedstryd in Parys. Die gasheer het die driemalige kampioen 27-13 verslaan op ‘n volgepakte Stade de France na ‘n rustyd-voorsprong van 9-8. Albei spanne het twee drieë gedruk, albei Nieu-Seeland s’n deur die vleuel Mark Telea, en Frankryk s’n deur die vleuel Damian Penaud en die plaasvervanger-heelagter Melvin Jaminet. Die Franse losskakel Thomas Ramos het 17 punte met skoppe bygevoeg. Die 80 000 toeskouers is vroeër vermaak met ‘n kleurvolle opening-seremonie.