Air Tanzania vlieg dalk na Windhoek

Namibië en Tanzanië sal binnekort ‘n bilaterale lugdiens-ooreenkoms sluit wat sal meebring dat Air Tanzania vlugte na Windhoek vlieg. Volgens Namibië se vervoerministerie het die twee lande kort voor die koms van die Covid-pandemie begin met onderhandelinge vir ‘n bilaterale lugdiens-ooreenkoms. Namibië se span onderhandelaars onder leiding van die vervoerministerie het ‘n konsepdokument aan hul Tanzaniese eweknie voorgelê vir bevestiging. Air Tanzania sal direkte vlugte na Windhoek vlieg en alle Namibië-geregistreerde lugrederye sal ook toegang tot Tanzaniese lughawens hê. Die uitvoerende hoof van die Gasvryheidsvereniging, Gitta Paetzold, sê aan Kosmos 94.1 Nuus dit is hoogtyd.