Olie styg op EU se voorstelle op Russiese verbod

Oliepryse het skerp gestyg na die Europese Unie, die wêreld se grootste handelsblok, planne uiteengesit het om die invoer van Russiese olie uit te faseer. Brent ru-olie het teen vanoggend met ongeveer 4 persent tot net bo 110 Amerikaanse dollar ‘n vat gestyg, ten spyte daarvan dat China verdere inperkings in Beijing ingestel het. Europa voer daagliks sowat 3,5 miljoen vate Russiese olie en olieprodukte in, en is ook afhanklik van Moskou se gasvoorrade. Ursula von der Leyen, president van die Europese Kommissie, het ‘n gefaseerde olie-embargo op Rusland voorgestel maar dit blyk asof daar uitdagings sal wees vir al die lidlande van die blok om in te stem.