Een vas vir renosterhoring by padblokkade naby Outjo

Ten spyte van herhaalde pogings kon die omgewingsministerie nie bereik word vir kommentaar oor die renosterhoring wat Vrydagnag by ‘n padblokkade tussen Outjo en Khorixas gevind is nie. Die weeklikse misdaadverslag van die Namibiese polisie maak wel melding daarvan en sê een persoon is gearresteer. Daar is vroeër berig vier is in hegtenis geneem. Volgens wat verneem is, is daar by die padblokkade ‘n voertuig ingewag wat sonder ligte gery het. Na verdere ondersoek is ‘n klein renosterhoring, moontlik die agterste horing van ‘n volwasse dier, of die van ‘n jonger dier, in die voertuig gevind. Voorlopige berigte, wat nog met owerhede bevestig moet word, toon dat die dier moontlik in die Etosha Nasionale Park gestroop is.