Hoëspoed vlugte bring nuwe era van reisMay 7, 2025
Internasionale reis mag binnekort drasties vinniger word danksy ’n suksesvolle toetsvlug deur die Amerikaanse lugvaartmaatskappy Stratolaunch. Die maatskappy het onlangs twee toetsvlugte voltooi met hul herbruikbare hipersoniese vliegtuig, Talon-A, wat snelhede van meer as Mach 5 bereik het, vyf keer vinniger as die spoed van klank.
Die eerste vlug het in Desember 2024 plaasgevind, gevolg deur ’n tweede in Maart 2025. Albei vlugte het plaasgevind vanaf Stratolaunch se reuse-vliegtuig Roc, met vlerke met ‘n lengte van 117 meter. Die Talon-A is oor die Stille Oseaan vrygestel en het toe tot 6 115 km/h versnel voordat dit veilig geland het by die Vandenberg-ruimtemagbasis in Kalifornië.
Ter vergelyking: ’n kommersiële passasiersvliegtuig vlieg teen sowat 925 km/h en neem ongeveer 42 uur om om die wêreld te reis. Die Talon-A sou dit in slegs sewe uur kon doen.
Volgens Stratolaunch se uitvoerende hoof, dr. Zachary Krevor, is dit ’n groot mylpaal wat die vermoë tot hipersoniese spoed, herbruikbaarheid, en veilige landings met vinnige vervoer van vragte bewys.
Stratolaunch is nie alleen in die hipersoniese wedloop nie — ander maatskappye soos Venus Aerospace en Boom Technology werk ook aan soortgelyke vliegtuie.
Maar, daar is ’n maar… Dis onwaarskynlik dat die meeste van ons hierdie tipe vlugte in ons leeftyd sal gebruik — en as ons wel kan, gaan dit waarskynlik buite ons begroting wees.
