Djiboeti nuwe voorsitter van AU-kommissie

Afrika-leiers het Djiboeti se minister van buitelandse sake, Mahmoud Ali Youssouf, Saterdag as die voorsitter van die Afrika Unie se kommissie verkies. Djiboeti se finansminister, Ilyas Dawaleh, het op X aangekondig dat Youssouf die “verkiesing gewen” het, berig Reuters. Youssouf is sedert 2005 die minister van buitelandse sake. Hy was voorheen Djiboeti se ambassadeur in Egipte en het as buitelandse minister in die regerings van drie presidente gedien.