VSA keur ook befondsing toe vir Oekraïne

Die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers het ‘n bestedingswet, wat 204,5 miljard Namibiese dollar se hulp aan die Oekraïne insluit, goedgekeur om die regering tot aan die einde van die finansiële jaar deur te sien. Wetgewing wat die invoer van Russiese olie en ander energiebronne na die VSA verbied, is ook aanvaar. Die pakket, wat na verwagting in die komende dae vir stemming in die Senaat voorgelê sal word, ken om en by die helfte van die geld aan Oekraïne se verdediging toe en die ander helfte om vlugtelinge te help. Die speaker van die huis, Nancy Pelosi, sê sy het met president Volodymyr Zelensky gepraat en Amerika se volgehoue ondersteuning aan Oekraïne beklemtoon.