Van Wyk weduwee dagvaar Boulter vir N$83,55m

Alta van Wyk, die weduwee van Gerhard van Wyk, wat op 27 Februarie 2021 dood is na ‘n skietvoorval waarvoor die Britse miljardêr Harvey Boulter op klagte van moord teregstaan, dagvaar hom vir skadevergoeding van 83,55 miljoen dollar. Sy is die hoof aansoeker en haar drie kinders is ook gelys. Sy eis vir verlies van inkomste, emosionele pyn en trauma, en ook net minder as 25 000 dollar vir haar man se begrafniskostes. In haar stukke is besonderhede van haar en haar kinders uitgelaat oor wat sy beskryf as veiligheidskwessies. Sy beskryf ook presies wat gebeur het op 27 Februarie. Sy sê ‘n onderonsie het ontstaan na ‘n gesprek tussen Boulter en haar dogter Liani waarna Boulter haar seun Gerhard aangeval het. ‘n Sekere Adam Such het probeer om Gerhard Jr. terug te hou en toe Gerhard Sr. probeer om Boulter te keer het Boulter hom geskiet. Hy is op pad hospitaal toe oorlede. Boulter verdedig die saak wat vandag voor regter Orben Sibeya voorkom vir saakbestuur.