Twee wedstryde van Reho Falcon Rugbyklub uitgestel

Ná die tragiese padongeluk Saterdagaand naby Rehoboth waarin vier lewens verbonde aan die FNB Reho Falcon Rugbyklub verloor is, is die span se geskeduleerde wedstryde uitgestel. Na ooreenkomste met die klub se opponente en die Namibië Rugby-unie, is die nuwe datums bevestig. Die wedstryd tussen Trustco United en Reho Falcon wat hierdie naweek sou plaasvind, is geskuif na 4 Mei. Die wedstryd van Simonis Storm Dolphin teen Reho Falcon wat op 27 April gespeel sou word, sal nou op 11 Mei plaasvind. Die plekke en tye van die wedstryde bly dieselfde as op die oorspronklike skedule. Begrafnisreëlings sal mettertyd bevestig word.