Tribunaal vir Russiese oorlogsmisdade by Den Haag op die been gebring

Pogings om Rusland wetlik aanspreeklik te hou vir die oorlog in Oekraïne, word verskerp. ‘n Spesiale tribunaal is by die Internasionale Strafhof in Den Haag, Nederland, tot stand gebring. Die tribunaal, wat gesteun word deur die Europese Unie, die VSA en Oekraïne, is in die lewe geroep om misdade van aggressie te hanteer. Ondersoekers in Oekraïne samel getuienis in om te kan bewys dat Rusland sedert sy inval in Februarie verlede jaar, oorlogsmisdade gepleeg het. Die Internasionale Strafhof kan nie misdade van aggressie vervolg nie, daarom sal die nuwe tribunaal dié taak hanteer. Misdade van aggressie hou verband met diegene wat gewapende geweld teen ‘n soewereine land beplan en opdrag daarvoor gee.