Sprinkane: Daar’s genoeg gif

Die Namibiese landbouministerie het alle beweringe ontken dat daar nie meer gif in die land beskikbaar is om die sprinkaanplaag te bestry nie. Die sprinkaanplae in die Karas-streek is besig om hand-uit te ruk met swerms sprinkane wat volgens die landbouministerie oor ‘n gebied van 1,2 miljoen hektaar in die Karas-streek voorkom, asook in die Hardapstreek by Maltahöhe en Gibeon. Dit is die vierde uitbreking van bruin sprinkane in die Karas-streek. Die swerms het al verskeie padongelukke veroorsaak en selfs lewens geëis. Die ministerie se skakelbeampte, Jona Musheko, verduidelik aan Kosmos 94.1 Nuus dat te veel gif nie bestel kan word nie, want dit het ‘n vervaldatum.