SA Sokkervereniging bring hulde aan Clive Barker

Sokker: Die president van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging, Danny Jordaan, sê die afsterwe van die afrigter Clive Barker is ‘n reuse-terugslag. Die gewese Bafana Bafana-afrigter het in Durban gesterf. Hy is vroeër die jaar met Lewy-liggaams-demensie gediagnoseer. Barker was die afrigter van die nasionale sokkerspan toe hulle in 1996 die Afrika-beker verower het. Jordaan sê hul oorwinning onder ‘n Suid-Afrikaanse afrigter bly een van die uitstaande oomblikke in Afrika se sokker-geskiedenis. Hy sê Barker is steeds die enigste afrigter van ‘n span waarvan al die spelers vir oorsese spanne in die voorste ligas in Europa gespeel het. Jordaan beskryf Barker se bydrae tot sokker as enorm.