SA kos-inflasie laagste sedert September 2020

Statistieke SA sê inflasie is die laagste in drie-en-‘n-half jaar. Inflasie vir voedsel en nie-alkoholiese drankies het in Maart gedaal tot 5,1-persent, van 6,1-persent in Februarie. Dit is laer as die onlangse hoogtepunt van 14-persent in Maart verlede jaar, en die laagste jaarlikse styging sedert September 2020, toe die koers 3,8-persent was. Volgens data was eiers verlede maand 28-persent duurder as ‘n jaar gelede. Rys was amper 26-persent duurder en die prys van wit- en bruinsuiker, aartappels en kondensmelk het met meer as 20-persent gestyg.