Russiese missiele op Oekraïne afgevuur midde Zelensky se besoek aan Den Haag

Nog ‘n vlaag Russiese missiele is vanoggend op Oekraïne afgevuur, met berigte van ontploffings in die hoofstad, Kiëf en die suidelike stede Zaporizjzjia en Odesa. Dit volg nadat Rusland Oekraïne van ‘n hommeltuig-aanval op die Kremlin beskuldig het. Volgens Rusland was dit ‘n poging om die Russiese President Vladimir Putin te vermoor. Die President van Oekraïne Volodimir Zelensky het egter ontken dat sy land die aanval uitgevoer het, en sê hulle veg op hul eie grondgebied. Zelensky sal intussen vandag die Internasionale Strafhof in Den Haag in Nederland besoek en met die Nederlandse eerste minister Mark Rutte vergader.