Russiese hof beveel oudste menseregte groep om te sluit

Die Hooggeregshof in Rusland het beveel die land se mees prominente menseregtegroep, Memorial, moet sluit. Die groep het die suiwerings van die Stalin-era geboekstaaf en simboliseer post-Sowjet-demokratisering. Internasionale nuusagentskappe berig regter Alla Nazarova het beveel die organisasie en al sy streekstakke moet sluit, omdat dit nie al sy publikasies, soos deur die wet vereis met die etiket “buitelandse agent” gemerk het nie. Dié wetgewing brandmerk organisasies wat buitelandse befondsing ontvang, as organisasies wat teen Rusland se belange optree. Memorial is in 1989 gestig deur Sowjet-andersdenkendes, waaronder die wenner van die Nobelprys vir Vrede, Andrei Sakharov.