Renosterstropers môre in die hof

Vier vermeende renosterstropers se verhoor vind vanaf môre tot Donderdag in die Otjiwarongo-streekshof plaas. Die saak spruit uit die verdagtes wat in Augustus 2018 met drie vars renosterhorings en ‘n jaggeweer by ‘n padblokkade vasgetrek is. Volgens die woordvoerder van die Namibiese omgewingsministerie, Romeo Muyunda, word die horings volgens ballistiese en DNS-bewyse verbind met twee renosterkarkasse wat in 2018 in die Etosha Nasionale Park gevind is. Muyunda sê aan Kosmos 94.1 Nuus dat die ministerie ook tevrede is dat 11 verdagtes aangekeer is oor die onlangse stropery van 12 swartrenosters in die park.