Red Johannesburg, sê DA
Die DA ondersteun die oproep van Business Leadership South Africa dat die Stad Johannesburg gered moet word nadat deelnemers aan die Soweto-marathon deur rou riool moes hardloop. Die party en die burgerlike samelewing pleit vir die ontbinding van die raad sodat die stad tot sy eertydse glorie herstel kan word. ʼn Woordvoerder van die DA, Belinda Kayser-Echeozonjoku, sê die stad word lamgelê deur kaderontplooiing, verkwistende besteding en ‘n gebrek aan aanspreeklikheid. Volgens haar het dienslewering agteruitgegaan en kontrakteurs word nie betaal nie, wat lei tot rioolstortings.