Qatar Airways-vlugte hervat vandag by HKIA

Qatar Airways het die kontrak met Paragon rakende vrag- en grondhantering onderteken en hul vlug sal vanoggend na elf-uur op die Hosea Kutako Internasionale Lughawe land. Dit volg nadat daar Saterdag chaos op die lughawe was nadat sekere lugrederye soos Qatar en Eurowings Discover hul vlugte moes herlei omdat vrag- en grondhanteringskontrakte met Paragon nog nie onderteken was nie. Hewige kritiek is in die toerismesektor uitgespreek ná lugrederye kort kennisgewing van die Namibiese Lughawensmaatskappy ontvang het dat Menzies Aviation moes ontruim. Dit het in die middel van die piek-toerismeseisoen ‘n erge rimpel-effek veroorsaak. Volgens berigte vanaf die lughawe is sowat 240 passasiers van Qatar Airways besig om in te boek vir hul vlug wat geskeduleer is om vanmiddag na Doha te vertrek. Onduidelikheid heers nog oor vlugte van Eurowings Discover.