Pous het opdrag gegee dat losprys vir non betaal word

Pous Franciskus het ‘n geheime operasie van ‘n miljoen euro goedgekeur om ‘n Colombiaanse non te bevry wat vir meer as vier jaar gevange gehou is deur ‘n Islamitiese militante groep in Mali.  Kardinaal Angelo Becciu, die enigste kardinaal onder 10 beskuldigdes by ‘n korrupsieverhoor wat verlede Julie begin het, het ook getuig dat hy geen onbehoorlike verhoudings gehad het met ‘n Italiaanse vrou wat ‘n tussenganger was in die operasie om die non te bevry nie. Suster Gloria Cecilia Narvaez is in Februarie 2017 deur die Macina Liberation Front, ‘n Al-Kaïda-gekoppelde groep in Mali, ontvoer en uiteindelik in 2021 vrygelaat. Die kardinaal sê dat hy aan die pous gesê het dat die operasie, insluitend die vestiging van ‘n “kontaknetwerk” en ‘n uiteindelike losprys, hoogstens sowat ‘n miljoen euro sal kos. Die pous het opdrag gegee dat die betalings gemaak word, het hy gesê.