Outa maak beswaar teen Eskom se vrystelling

Die Organisasie teen Belastingmisbruik, Outa, het beswaar gemaak teen die Nasionale Tesourie se voorstel om Eskom vir drie jaar vry te stel van die bekendmaking van onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes in sy jaarstate. Die kennisgewing in die Staatskoerant wat die vrystelling verleen, is ná openbare besware teruggetrek en vervang met ‘n oproep om kommentaar oor ‘n voorgestelde vrystelling. Die organisasie voer aan die vrystelling sal onreëlmatige uitgawes vererger en Eskom se kontantvloei knou. Wayne Duvenage van Outa waarsku ook dat die vrystelling ‘n gevaarlike presedent vir ander instellings en munisipaliteite kan skep.