Oshakati-polisie trek ‘reeksverkragter’ vas

‘n Vermeende reeksverkragter wat vir byna ‘n week owerhede ontduik het, is by Oshakati aangekeer. Adjudant-offisier Frieda Shikole, van Nampol in die Oshana-streek, het die arrestasie bevestig. Die verdagte is deur vier van sy slagoffers tydens ‘n uitkenningsparade wat by Oshakati gehou is, geïdentifiseer. In al die gevalle was die slagoffers minderjarig. Hy is ook skuldig bevind vir twee afsonderlike verkragtingsake waarby minderjariges betrokke is, wat gepleeg is toe hy onder die ouderdom van 18 was en is onderhewig aan ‘n lasbrief van arrestasie in twee sake van huisbraak en die besit van gesteelde eiendom. Dié aanklagte is ingedien nadat borgtog aan hom toegestaan is in die twee sake wat in die Oshakati-landdroshof oorweeg word. Hy sal mettertyd in die Oshakati-landdroshof verskyn.