Opuwo spog met nuwe NamRA-kantoor
NamRA het ‘n nuwe satelliet-kantoor by Opuwo geopen om die kantoor in Khorixas aan te vul in sy pogings om sy dienste nader aan gemeenskappe te bring. Dit beteken daar sal nie meer van inwoners van Opuwo en omliggende gebiede vereis word om lang afstande te reis om hul belasting-opgawes in te dien nie. NamRA-kommissaris Sam Shivute het die satellietkantoor amptelik ingehuldig. Hy sê die agentskap sal werk om Namibiese belasting- en doeaneregulasies op ‘n konsekwente, regverdige en doeltreffende wyse af te dwing. Shivute het ook die noodsaaklikheid beklemtoon om belasting te betaal, en sê dat inkomste-invordering die enigste metode is vir die regering om vir sy inwoners te sorg.