Nauhaus, 34, ook van strafbare manslag aangekla na R44-dokumente
Die 34-jarige Antje Nauhaus het in die landdroshof op Swakopmund verskyn op klagte van, onder andere, stafbare manslag, bedrog en vervalsing tussen 29 Junie en 12 Julie vanjaar. Sy is in verband met die helikopter-ongeluk wat verlede week die lewens van die 54-jarige vlieënier Jacques Jacobs en die 29-jarige lugvaartingenieur Dirk von Weidts by Swakopmund geëis het, aangekla. Volgens die Namibiese polisie het die eienaar van Namibia Base Aviation, waar Nauhaus werksaam was, die klag aanhangig gemaak. Sy het na bewering dokumente vervals vir die registrasie en toetsvlug van die Robinson R44-helikopter. Die staat het borg teengestaan en haar saak is tot 2 Oktober uitgestel.