Nampol waarsku oor aanlyn slenter

Die Namibiese polisie het lede van die publiek gewaarsku oor ‘n slenter, bekend as ‘bestel saam met my’. Volgens die mag word items soos selfone, skoene, klere en ander items oorsee aangekoop en aanlyn plaaslik herverkoop veral op Facebook en Instagram. Wanneer die bestelling gemaak word, vra die verkoper wat die produk kwansuis invoer, vir ‘n deposito. Die oomblik wat die geld betaal is, verdwyn die persoon. Volgens berigte is eerlike persone wat ook die praktyk bedryf, genoodsaak om nie meer deposito’s te vra nie en hoop maar dat die plaaslike koper wel die produk betaal wanneer dit aankom. Die mag herinner lede van die publiek weer om versigtig te wees met aanlynaankope.