Landsburgers moet help met data invordering

Die Namibiese Statistikus-Generaal Alex Shimuafeni, het ‘n beroep op landsburgers gedoen om deel te neem aan die insameling van data en sodoende by te dra aan die ontwikkeling van die land. Shimuafeni het ‘n memorandum van verstandhouding met die Suider-Afrikaanse Wetenskaplike Sentrum vir Klimaatsverandering en Aanpasbare Grondbestuur onderteken. Luidens die ooreenkoms moet data oor die klimaat ingesamel word om ‘n voldoende basis te bou vir bestuursplanne. Data het volgens kenners een van die belangrikste instrumente van die toekoms geword en daarsonder, kan bestuur nie toegepas word nie. Die wetenskaplike sentrum is ‘n gesamentlike onderneming met Angola, Botswana, Suid-Afrika, Zambië, Duitsland en nou Namibië en is gestig om die uitdagings van klimaatsverandering aan te spreek.