Landdros en aanklaer onttrek van Dennis Noa-saak

Die voortslepende hofsaak van die leerlingdokter Dennis Noa, wat van verkragting en poging tot moord op ‘n 18-jarige pasiënt teregstaan, is tot 14 Junie uitgestel nadat die aanklaer en die landdros van die saak onttrek het. Landdros Leopoldt Hangalo het gesê Noa is die seun van Paulus Noa, direkteur van die Teenkorrupsie Kommissie, wat ‘n goeie vriend van hom is. Menencia Hinda, aanklaer, het ook gesê dat sy in noue kontak met die klaer is en as sodanig nie die staat in die saak kan verteenwoordig nie. Noa, wat aanvanklik van die verkragting van ‘n 18-jarige breinbeseerde manlike pasiënt aangekla is, is middel Mei deur die aanklaer-generaal op ‘n bykomende aanklag van poging tot moord aangekla. Noa is tans op borgtog uit van 10 000 Namibiese dollar.