Laat woestyn-olifante met rus, toeriste!
‘n Video wat op sosiale media die rondtes doen het natuurliefhebbers en -bewaarders warm onder die kraag. Die video is van toeriste wat in die Ugab-rivierbedding na die woestyn-aangepaste olifante kyk. Kinders sit agter op hul oop bakkie terwyl die groot bul Bennie, baba Fiori en haar ma, en nog ‘n paar dames van die Ugab-kudde om die voertuig beweeg. Die ma-olifant trap dan ‘n koelsak met Coca-Cola daarin plat, reg langs die bakkie. ‘n Persoon het die video aangestuur en sê dit is hoe mens in die moeilikheid beland. Kosmos 94.1 Nuus het met Rachel Harris, besturende direkteur van Elephant Human Relations Aid, gepraat wat sê sulke gedrag is totaal onaanvaarbaar.