Jy mag nie met jou slang ‘surf’ nie

‘n Australiese man wat verfilm is terwyl hy met sy troeteldierluislang branderplank gery het, is met ‘n bedrag wat gelykstaande is aan meer as 24 000 Namibiese dollar beboet omdat hy die reptiel in die openbaar uitgeneem het. Die inwoner van die Goudkus, Higor Fiuza, het die branders van Rainbow Bay ten minste tien keer gery saam met sy Morelia bredli luislang genaamd Shiva. Hy sê dit het gelyk of die slang die water geniet omdat sy nooit gesis het terwyl sy in die branders was nie. Natuurlewebeamptes het egter bekommerd geraak oor Shiva se welsyn en sê reptiele vermy gewoonlik water.