IDF gereed om Rafah te ontruim

Israel se weermag is gereed om Palestynse burgerlikes uit Rafah te ontruim en Hamas in die suidelike Gazastrook-stad aan te val, volgens ‘n senior Israeliese verdedigingsamptenaar. Dit is ondanks internasionale waarskuwings van ‘n humanitêre katastrofe. Israel se verdediging-ministerie het 40 000 tente gekoop wat elk 10 tot 12 mense kan vat, om Palestyne te huisves wat uit Rafah ontruim sal word. Die verdedigingsamptenaar, wat anonimiteit versoek het, het aan Reuters gesê dat die weermag onmiddellik tot aksie kan oorgaan, maar wag op ‘n groen lig van Israeliese premier Benjamin Netanyahu.