Hongkong Sewes: Blitsbokke beïndruk

Die Blitsbokke het hulle goeie vertoning by die Hongkong-sewes vroeg vanoggend voortgesit met ‘n sterk 26-7-oorwinning oor Samoa. Hulle het Vrydag ook beïndruk deur Ierland met 22-17 en Spanje met 24-10 te klop. Hulle oorwinning oor Samoa vanoggend het hulle plek in die kwarteindstryd verder bevestig, hoewel die eerste twee oorwinnings die pad na die kwarteindronde reeds gelykgemaak het. Die tussentydse hoofafrigter Philip Snyman sê hy is tevrede met die span se spelpeil sover. Intussen kon die Suid-Afrikaanse vroue nie hul veldtog van die grond af kry nie met hul derde poel-nederlaag, dié keer teen die Australiërs, wat hulle met 28-0 geklop het.