Hitte in Mexiko dood 104
Die Mexikaanse ministerie van Gesondheid het aangekondig dat versengende hitte in Junie die lewens van 104 mense geëis het, na ‘n reeks hittegolwe. Die ministerie sê byna ‘n duisend hitte-verwante noodgevalle is tussen 12 en 25 Junie aangemeld. Die sterftes word na wat berig word toegeskryf aan ontwatering en sonsteek. Verlede week het die noordwestelike deelstaat Sonora maksimum temperature van tot 49-grade Celsius aangeteken. Wetenskaplikes waarsku aardverwarming vererger ongunstige weerstoestande wêreldwyd wat tot stygende temperature lei.