Handelsministerie ontvang grond in DRK, nou wat?

Die Namibiese handelsministerie het 36 hektaar grond by die regerings van Kongo-Brazzaville en die DRK bekom. Die grond, wat geskenk is, sal ontwikkel word in ‘n spilpunt vir die bevordering en verhandeling van Namibiese goedere en dienste in markte in Wes- en Sentraal-Afrikalande. Die ministerie sê veral vleis en vleisprodukte, sowel as vis, bier, graan en ander landbouprodukte sal onder die loep kom. Koue- en droëbergingsfasiliteite sal opgerig word. Maar, die ministeriële woordvoerder Elijah Mukubonda sê egter die ministerie staar verskeie struikelblokke in die gesig, insluitend taalhindernisse en finansiële beperkings. Frans is die amptelike taal in beide die twee Kongo’s en om daar sake te doen, word Amerikaanse dollar vereis.