Drie vas na diefstal van nege beeste by Dordabis

Die Namibiese polisie het drie verdagtes in hegtenis geneem wat glo nege Angus-beeste op die plaas Olive Nina naby Dordabis gesteel het. Die beeste is in die Gobabis-distrik teruggevind en aan die eienaar terugbesorg. Die veediewe het reeds die beeste met ander oorplaatjies en brandmerke toegerus. Die polisie het ook op dié toerusting wat tydens die misdaad gebruik is, asook ‘n vragmotor beslag gelê. Die drie verdagtes – die meesterbrein, die vragmotor-eienaar en -bestuurder – is in hegtenis geneem. Hulle is by die Dordabis-polisiestasie aangekla waar hulle aangehou word. Volgens Nampol is twee verdagtes nog op vrye voet en die ondersoek duur voort.