Dol-koedoes neem toe, boere moet oplet

Toenemende gevalle van hondsdolheid onder koedoes word die afgelope paar weke gerapporteer. Die Namibiese Landbou-unie bedank sy lede wat hierdie gevalle aanmeld. Daar moet onthou word dat hondsdolheid ‘n aanmeldbare siekte volgens wetgewing is. Dit maak nie saak onder watter diere dit voorkom nie. Beeste, honde, jakkalse, wild – enige gevalle wat vermoed word, moet by die naaste staatsveeartskantoor aangemeld word. Dit is uiters belangrik en dit word afgedwing volgens die wet op dieregesondheid. Dit word as ’n misdaad beskou om dit nie aan te meld nie. Waar moontlik moet die betrokke dier van kant gemaak word en die karkas moet geïsoleer word. Die kop moet so gou moontlik by die Sentrale Veterinêre Laboratorium uitkom sodat ’n breinmonster ontleed kan word.