Derde storm in week saai verwoesting in Brittanje

Vir die eerste keer sedert storms in Brittanje sewe jaar gelede begin name kry het, het drie van hulle die land binne ‘n enkele week getref. Storm Franklin het kort op die hakke van Dudley en Eunice gevolg om wydverspreide verwoesting te saai. Volgens die jongste berigte het die Donrivier in Yorkshire afgekom. Verskeie mense moes uit hul gestrande motors gered word en treindienste is onderbreek. Inwoners in die omgewing van die Merseyrivier in Manchester is gewaarsku om reg te maak om te ontruim.