Ace Magashule se voorverhoor is uitgestel tot Junie

Die voorverhoor van die ANC se geskorste sekretaris-generaal, Ace Magashule, is uitgestel tot 10 Junie. Magashule het vanoggend in die hooggeregshof in Bloemfontein in die Vrystaat verskyn. Hy wil hê die korrupsie-aanklagte teen hom moet teruggetrek word. Magashule en 15 medebeskuldigdes staan ook tereg op aanklagte van bedrog en geldwassery wat verband hou met die onreëlmatige toekenning van ‘n asbestender van 255 miljoen rand. Die staat het intussen dokumente ingedien om Magashule se voormalige persoonlike assistent, Moroadi Cholota, uit Amerika uitgelewer te kry om teen hom te getuig.